Die warmste hemellig is stadig maar seker besig om agter die verste sien te loop slaapplek soek. Ek en die Mooiste Mooi sit langbeen op ons kuierstoep, ek met my oranje koffiebeker en sy met ‘n teekoppie van fyn porselein. Dis ampertjies naweek en laaste week was erg lank en diep moeisaam. Nou-nou breek die naweek aan en hopelik sal die volgende paar dae ingekleur word met vrede en rustigheid.
Reg voor die wynwinkel se groendeur bondel ‘n groepie jongmanne rondom Janneman saam. Die Kalahari klong wat eintlik nog op die skoolbanke hoort, het mos maar net ‘n manier om altyd reg in die middel van ‘n klomp mense te wees. Veral tussen ander jongmense en veral as daar geld in sy broeksak is. Maar as hy met ‘n rooiprop uit die wynwinkel kan spog, dan loop hy stywenek soos ‘n trotse teelram met lang papiere.
Die gekoggel en uitbundigheid voor die wynwinkel se groendeur trek my en die Mooiste Mooi se aandag. Maar dis veral Janneman wat my oog vang en my hart is diep seer. Die jongman – met duine vol potensiaal – wil tog so graag vry, ongebonde, onafhanklik en in beheer wees. Dis nou sonder enige verantwoordbaarheid teenoor enige iemand of enige struktuur. Hy wil kom en gaan soos die lekkerte hom pak en niemand kan hom enigsins iets leer nie. Vir Janneman gaan alles net om homself en roem. Roem wat slegs hom toekom – amper net soos Babel se bondel mense. En daarom is hy oortuig dat die Kalahari son mos net oor hom en sy doendinge skyn.
Om egter vry, onafhanklik, ongebonde en in beheer te wees, impliseer groot verantwoordelikheid. Dis voorwaar iets wat Babel se bondel nie regtig verstaan het nie. Hulle het geleef in ‘n era waar die Skepper van hemelgoed en stofaarde gedien kon word sonder enige beperkings, enige reëls, enige belemmering. Hulle kon by Hom ingaan, Hom aanbid en Hom liefhê sonder enige voorbehoud of enige vereistes.
Maar nee, Babel se bondel wil ‘n nalentskap, ‘n monument, ‘n erflating los van hulle eie vermoëns om skynbaar nooit te verdwaal of verstrooi te word nie. Hulle wil elke dag herinner word aan hoe spesiaal en oulik hulle is. Hulle soek eerder roem en erkenning wat soos inspandonkies saamtrek. Die een kan en wil mos nie sonder die ander nie. En ons Here wat ‘n Verhoudingsgod is … Hy is nêrens deel van hierdie storie nie.
Babel se bondel en so ook Janneman se begeerte is om onthou te word en dan moet daar lofliedere oor hulle gesing word. Hoe harder en duideliker, hoe beter. Net soos die stories wat ons graag oor onsself vertel. Stories waar die eie ek, die middelpunt, die fokuspunt en die sentrale figuur is. Sodoende is ek belangrik en kom die roem en erkenning my toe.
Ek en jy leef – net soos in Babel se tyd – in ‘n omgewing waar ons vry is van verhoudingsvoorskrifte ten opsigte van Hom. Ons kan by die Vader ingaan, Hom aanbid en Hom liefhê sonder enige voorbehoud of vereiste. Alles gaan tog maar net oor Hom. Die stories wat ons vertel, moet eerder Sy storie wees, want Hy is die Here, die Alomteenwoordige, Alleswetende, Almagtige Skepper van hemelgoed en stofaarde.
En terwyl Janneman en die bondel jongmanne rondom hom buite sig wegraak, wonder ek of die Jannemanne van die lewe ooit sal verstaan dat alles maar eintlik oor die Jesus gaan. Jesus, die Kêrelkind van God en Jesus as die Here wat eendag weer gaan kom.
Gen 11:4 (NLV) = ““Kom,” sê hulle, “laat ons vir onsself roem verwerf en ’n stad bou met ’n toring wat aan die hemel raak. Dit sal ons bymekaarhou en keer dat ons oor die hele aarde verstrooi word.””