Hoe moet ons bid?

Filippense 4:6 Die Boodskap: “Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel. Sê dan vir Hom dankie dat jy met Hom daaroor kan praat en dat Hy die beste weet. Jy sal dan verlig en tevrede voel. Jy sal hierdie verligte gevoel nie altyd kan verklaar of wetenskaplik kan uit lê nie. Omdat jy egter weet dat jy aan Jesus behoort, sal jy nie meer omgekrap voel nie.”

Filippense 4:6 Die Boodskap

Paulus leer ons hoe ons antwoorde op ons gebed sal verkry. Ons moet altyd bid met ‘n dankbaarheid in ons hart. Want hoekom sal God vir ons voorsien in enige iets as ons nie dankbaar is vir dit wat ons reeds het nie? Indien ons nie dit wat ons van die Here vra met dank in ons harte vra nie – hoe dink ons sal ons kan ontvang? Ons word nie in die Bybel geleer om altyd te kla wanneer ons bid nie – ons word geleer om te bid met dankbaarheid. Dit spreek van geloof wat in ons is as ons bid.

Wanneer jy in gebed met God praat, kan jy vertel hoe jy voel. Maar sê Hom ook dankie dat Hy die beste weet. Dit gaan tog nie oor wat jy wil nie, maar wat God wil. Sou jy met dankbaarheid bid, dan bid jy met geloof. In Jak. 1:6-8 staan geskrywe dat ons in die geloof moet bid “…want iemand wat twyfel, is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word. So ‘n mens wat altyd aan die twyfel is in al sy doen en late, moet nie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”  

Die vurige gebed van hulle wat glo, het groot krag.

Waak dus teen ongeloof wat maklik wil oorneem.

Wees altyd dankbaar wanneer jy God in gebed vertrou.

Leave a Reply