Sowat 70km buite Upington – dis nou deel van daardie gedeeltes in ons wêreld waar selfone nutteloos is en ander voertuie nie sommer rondry nie – skrop ‘n groot skrik nes in my gemoed terwyl ons terug ry Noenieput toe. Dit klink soos ‘n klip wat opgeslaan het teen die onderkant van die voertuig, maar toe die geluid van die bande op die ongeskraapte grondpad heel anders begin klink, toe weet ek. Gabriël het bandskade. En so was dit dan ook. Die band links agter staan plat met die grond. Al wat ek nou kan doen, is om in die middel van hierdie verlatenheid in die middel van die pad te stop en sommer net daar die band om te ruil.
…domkrag…
‘n Rukkie later en ek lê plat op die ongeskraapte grondpad om die domkrag onder Gabriël se as in te skuif. Die ou staatmaker moet eers stert in die lug staan om dieselfde band wat vroeër vandag in Upington reggemaak is, om te ruil. Skaars het ek begin om die domkrag op te wen, toe die Mooiste Mooi se bekommerde stem onverwags roerloos in die lug hang. “Ons het groot moeilikheid. Hierdie ander agterste band het ook skade. Kom luister of ek reg hoor. Ek kan hoor hoe hy afblaas”.
Die klippertjies op die ongeskraapte grondpad is genadeloos vlymskerp teen my rug en bene waar ek steeds onder Gabriël lê. Dit voel kompleet asof hulle my wil aanjaag om besig te raak en iets te doen. Maar met die skok en verbasing wat oor my hele menswees spoel, voel ek magteloos. Ons krisis is groot … baie groot want beide agterste bande is beskadig. Een staan reeds plat op die grond, terwyl die ander vinnig besig is om af te blaas. Daarmee saam is ons nou gestrand tussen niks en nêrens waar selfone geensins werk nie.
Amper geruisloos prewel ek sag “Here help tog, ek kan nie meer nie … ek weet nie meer nie” net voordat ek onder Gabriël (wat nou stert in die lug staan) uitskuif. Al wat ek kan doen is om hierdie spesifieke beskadigde band af te haal terwyl die lug onheilspellend en aanhoudend uit die ander band suis.
Half nonchalant (en miskien met ‘n skalkse glimlag in Sy oog) raak die Veilige Gees skielik deel van my gedagtegang. “Nou maar goed” beduie Hy “sit eers die spaarband op en draai dan om en gaan terug dorp toe … Upington toe. Stop so elke 5 km om die ander agterwiel – die ene wat afblaas – weer styf te kry met die silwer kompressor pompie wat Vaalseun gistermiddag agter in Gabriël se bak gelaai het. Sodra julle in die dorp aankom, moet jy twee nuwe bande koop en laat opsit. En weet … alles gaan “honkie dorie” wees.”
Met dié woorde wat steeds in my binneste binne eggo, laat val ek die wielsleutel wat in my hand was, gryp die Mooiste Mooi om die lyf trek haar baie styf teen my vas. En so staan ons daar in die verlate eensaamheid van ‘n droë woestynwêreld, terwyl ek oor en oor vir myself en vir haar sê dat alles reg gaan uitwerk. Alles gaan “honkie dorie” wees, want Hy sê so. Hy is hier. Hy is altyd hier en Hy gee om.
‘n Klompie minute later het ek die band wat plat op die grond staan vervang, omgedraai en teruggery dorp toe. Op pad terug het ons so elke 5 km gestop om daardie band wat aanhoudend afblaas te pomp … nes Hy gesê het. En in Upington aangekom is ons reguit na ‘n bande handelaar toe om twee nuwe bande op te sit. Al het ons ons laaste spaargeld hiervoor gebruik. Want alles gaan “honkie dorie” wees … nes Hy gesê het.