Blapsie se Bederf

‘n Afsluitingsfees hier in die Kalaharikant van die land is altyd besonders. Maar voorlaaste jaar se afsluitingsfunksie het ampertjies nie gebeur nie. Miskien is dit die rede waarom dié afsluiting anders was. Baie anders en diep spesiaal. Sien, gewoonlik kry ek, die Mooiste Mooi en die afsluitingslopers ‘n geleentheid om weer op die gisterspore van die verbygaande jaar te kan terugloop. Ons onthou die swaar en gesukkel asook die vreugde en vrede. ‘n Tyd om te kan onthou, te kan herkou en weer te beleef.

Maar so ‘n byeenkoms skep ook vir my en die Mooiste Mooi ‘n kans om tasbaar dankie te kan sê. Dankie te kan sê vir nog ‘n jaar se betrokkenheid by ons en ons sendingaktiwiteite. So ‘n feestelikheid vol bederf, helderkleurige sertifikate en natuurlike ‘n swetterjoel geskenkies skep ook ‘n geleentheid om te luister. Op die manier kom ons so klein bietjie nader aan die hartklop van vergete en alleen mense. Ons probeer ook om hulle so bietjie beter te verstaan – veral dit wat hulle opgewonde maak, asook dit wat maak dat hulle met sleeptreë die toekoms inloop.

Wel, met voorlaaste jaar se afsluitingsfunksie was Swartkopdam se saal vol kleurvolle linte en helder blomme. Almal het ietsie koels in ‘n glas, want die middaghitte wil-wil ondraaglik raak, terwyl sagte musiek in die agtergrond speel. Die geselskap is gemoedelik lig en vol geskerts, want die langtafel wat alleen in die middel van die saal staan, gaan netnou hopelik kreun onder al die kossigheid. Selfs ouma Ef wat gewoonlik skraps en suinig is met haar lag en praat, giggel en klets tog te lekker saam.

grayscale picture of person's portrait
Photo by Glen Hodson on Unsplash

Vandag sal ek maar min kan saam gesels, want vandag is dit my voorreg om gasheer, seremoniemeester, musiekmaker, kok, kelner en skoonmaker te wees.

Skaars het ek die eetgerei waarop en waarin die voorgereg (‘n rooi fluweel kolwyntjie en yskoue koeldrank met romerige roomys daarin) afgedra, toe Blapsie opslag met Miena sitplek ruil. Sy wil vandag die voorreg proe om knus langs die Mooiste Mooi te kan sit, “want” sê sy, “vandag is my beurt om bederf te word.”

Stilte sak soos ‘n genadekombers op die groepie mense neer toe ek vertel dat die groot eet gaan begin. Tyd vir die hoofgereg. Kalahariburgers. ‘n Hoofgereg wat met die hand geëet kan word. Verward staar die groepie mense my wit oog aan, want burgers is dorpskos en dorpskos word mos net in die dorp geniet.

Blapsie wat steeds langs die Mooiste Mooi sit, se donker bruin kykers raak al groter en groter. Dis nou terwyl ek die sagte vars broodjies, regte botter, kaas, gebraaide uie en sampioene indra. Daarna is dit pynappel stukke, tamaties, mosterd asook kaas-en tamatiesous se beurt. Maar toe Blapsie die gewigtige vleis patties sien, begin sy soos ‘n jong skoolmeisie giggel en gryp die Mooiste Mooi se regterhand vas.

Stilte sak soos ‘n genadekombers op die groepie mense neer toe

“Mevrou weet” sê sy saggies en haal diep asem, “die Here leef. Die Here leef regtigwaar. Vroeg in laaste week, mevrou, toe ons lewens hier op Swartkopdam vol duinsand was en almal die afsluiting wou los, het ek gebid. My oë het lank grondlangs gekyk terwyl ek met Hom gepraat het. Ek het vir Hom gesê daar is baie mensegoed op hierdie aarde. Maar dis net pastoorgoed en mevrou wat ons Swartkopdammers hoog in die hart dra. Veral as dit afsluiting is. Ek vertel toe ook vir Hom van hoe lekker en spesiaal afsluiting is. En net voor ek klaarmaak, toe vra ek Hom om groot asseblief te sorg dat ons afsluiting kan gebeur.”

Sonder ophou borrel sy voort. “En mevrou, weet mevrou wat? Hy het gehoor. Die Here het regtig gehoor, want kyk … ons hou afsluiting. Ek is tot in my murg toe bederf vandag, mevrou. Kyk … kyk net al my geskenke en dan nog daai koevertjie met my afsluitingsgeldjies in. Pastoorgoed het mos daai geldjies wat ek moes betaal netnou weer in my hand teruggesit. En die beste van alles mevrou, is dat ek vandag iets kan eet wat ek nog nooit geëet het nie. Ene met goeters op waarvan ek hou. My Here leef mevrou, my Here leef en my Here bederf my diep vandag.”

Later daardie selfde aand sit ek en die Mooiste Mooi onder die Kalahari se sterreprag by die “Kuierplek-op-die-vlak” en geniet Sy teenwoordigheid. Woorde is onnodig, want na vandag verstaan ons so klein ietsie meer van ons liefdevolle Vader. ‘n Omgee Skepper wat nie skroom om Sy almag en liefde met ons as mensegoed te deel en ons te bederf nie. Veral as ons mensegoed dit nie verwag nie … nes Blapsie van Swartkopdam met haar bederf.

Eks 33:19 (DB) = “Die Here sê toe vir hom: “Ek doen graag iets vir iemand as Ek dit self besluit. Ek bederf graag mense wat Ek ’n guns wil bewys. Ek sal jou wel iets van my grootheid laat sien. Ek sal dat jy my stem hoor wanneer Ek my Naam ‘Here’ voor jou sê.”

Leave a Reply