Dit is nog goed donker. Ek lê grootoog en rondkyk met ‘n avontuurlustige onrustigheid wat in my kop broei. Sekerlik maar omrede oom Adam van ouds se bloed vandag meer as gewoonlik in my are en kop bruis. Elke man het mos maar iets wat smekend uitroep na ‘n avontuur, ‘n ervaring of ‘n belewenis waar die onbekende ontdek en ingebreek word.
Kort na ek en die Mooiste Mooi ons eerste drinkgoed op die Kuierplek-op-die-vlak gedrink het, het ek haar gegroet, in die Genadewa geklim en die Kalahari se duinewêreld ingery. Sommer net gery. ‘n Rukkie later maak ek myself gemaklik bo-op ‘n groot rooi sandduin en staar oor die verlate vlaktes uit. Voorwaar ‘n avontuur en belewenis wat woorde moeilik beskryf.
Dan, uit die hoek van my oog so halfpad teen die oorkantste duin, blink die wit van ‘n klompie gebeendere. Wit verskroeide gebeendere – heel moontlik dié van ‘n skaap – wat sommer hier tussen niks en nêrens loop vrek het. Eers steur ek my nie daaraan nie, maar kort-kort kry ek myself waar ek langer na die hopie bene staar as wat nodig is. So onthou ek weer my voor laaste week se gelees in Esegiël van die vallei vol dooie bene. Met hierdie verhaal steeds in my kop, loop ek nader om langs die hopie bene te gaan sit.
Paulus het egter per geleentheid vir Korinte se gemeente beduie dat die liggaam van Christus ledemate het … net soos vandag se kerk en elke individuele gemeente ‘n verskeidenheid van lidmate het. En net daar op die rooiduin langs die hopie wit verskroeide bene, begin ek wonder oor ons. Ek wonder oor jou en my as kerklopers en ook oor ons doendinge. Opeens tref dit my dat ons as lidmate van die breë kerk en afsonderlike gemeentes se gedrag ‘n aanduiding gee van die soort gebeendere wat ons in die liggaam van Christus is. Gebeendere soos skokbeentjies, wensbeentjies, kakebene, kopbene en ook die ruggraat.
Sien, skokbeentjies is kleinserige mense wat tog so maklik seergemaak voel. Hierdie bondel mense moet mos teen alle tye en teen alle koste opgepiep en gepamperlang word. En sou die ondenkbare gebeur en hartseer maak adres in hulle gedagtes, sal hulle sommer wind in hulle voete kry en elders heen skuif.
Wensbeentjies is net soos die naam aandui, daardie kerklopers wat oor alles wens. Hulle wens dat die prediker moet langer, korter, harder, sagter preek en miskien selfs sal ophou preek. Soms wens hulle dat die diens vroeër of later moet begin en ook afsluit. Wensbeentjies is uitgesproke dat vinnige groei uiters belangrik is, maar niemand moet tog ooit vir hulle vra om iets te doen nie.
Ons almal ken die kakebene wat altyd ‘n mondvol oor alles te sê het. Hulle praat of skinder oor alles en almal, maar verkieslik oor die kerkraad, die predikant, die orrelis, die musikante en die voorsangers. Kakebene kritiseer graag en is nie skaam om te vertel wat hulle vir die kerk, die gemeente en veral die Here gaan doen nie. Maar dit begin met woorde en dit eindig met woorde. Leë woorde sonder dade.
Kopbene is kerklopers wat altyd gesien wil word. Mense wat die hoof of voorsitter van alle strukture wil en moet wees. Hulle stel net belang om as hoof ouderling, hoof diaken of die voorsitter van die kerkraad, finansiële komitee of sustersvereniging te dien. Kopbene het geen geestelike waarde vir niemand nie, want hulle is daardie ledemate wat status bewus geraak het.
Maar vir die enige liggaam is die ruggraat die belangrikste. Mense met inbors, integriteit en inisiatief, asook ware steunpilare vir God en Sy gebod. Hulle is staatmakers, bakens en rolmodelle wat sonder aanmoediging ander se behoeftes identifiseer en vol ywer aandag daaraan gee. En die mees belangrikste kenmerk van kerklopers wat ruggraat het, is dat hulle die Skepper van hemelgoed en stofaarde se liefdesevangelie, ongeag omstandighede, wil uitleef.
Heelwat later en die avontuurlustige onrustigheid in my kop is weg. Net voor ek opstaan prewel ek saggies terwyl ek vir oulaas na die hopie wit geskroeide bene langs my kyk. “Ai Here, ek wil so graag deel van die Liggaam van Christus se ruggraat wees. Help my tog daarmee asseblief en baie dankie vir U hulp, U leiding en U inspraak”