Die vroegmiddag strale van die herfsson brand lugspieëls oor die graspolle van die Agter-Kalahari. Net soos die Heer se genade, loop die Genadewa gemaklik oor die tweespoor sandpaadjie en tussen driedoringbosse deur soekend na vergete en alleenmense wat wyd agter sandduine woon.
Stadig wieg die Genadewa nader en stop neffens hulle woonplek in die bietjie koelte van ‘n Kaboom waarna ek en die Mooiste Mooi hulle groet. Hulle het geensins verwag dat enige iemand hier sou kom oorstaan nie. Wel, veral nie met ‘n voertuig nie want daar is die dag voor eergister vir hulle met ‘n reguitwoord gesê dat niemand anders op hierdie verlate stuk aarde sal kom spore maak nie. Hier is hulle sonder kind of kraai met net hulle bondeltjies klere en ‘n bietjie kooigoed buite hulle verwysingswêreld afgelaai. Swaar lê die bangheid in hulle longe want hulle asemhaling is vlak en vinnig.
Ons viertal kuier sommer so staan-staan in die bietjie koelte van die Kaboom waaronder die Genadewa staan. Eers oor hulle gisterspore en hulle besluit om na hierdie verlate stuk Kalahari te kom en ook oor die boelies en bang goeters van die hart. Hartsboelies en bangmaak goeters wat ons en hulle forseer om aan die annerkant kant van ons menswees se grensdrade soekend rond te dwaal. Daar – in ‘n verskroeide wêreld wat in eie reg vreemd, vreesagtig, dor, donker en depressief is – ploeter ‘n iedere en ‘n elk doelloos en rigtingloos in eie krag voort.
Donkernag se tyd en ek en die Mooiste Mooi wil huis se kant toe staan. Die twee alleen mense hou ons vas met hul gepraat terwyl hulle gesigte soos hemelstraat se miljoene der miljoene sterre blink. Sinne vol vreugde en lag borrel sonder ophou uit hulle binnestes. Die Kêrelkind van God het hulle terug oor daai menswees grensdraad gehelp met die hulp van ‘n klein stukkie brood en slukkie rooi druiwesap, bemoedigende wegkruipwoorde uit oompie Dawid se geskrifte en die Veilige Gees se inspraak. So is hulle hartsboelies en bangmaak goeters wyd oor die vlak verjaag. Voorwaar ‘n eenvoudige resep vir ‘n ingewikkelde probleem.
By die laaste moedbreek grenshek – terwyl die ou Genadewa gerusstellend sag dreun so al asof hy vir my iets wil sê – word ek net weereens bewus van ‘n eeu-oue waarheid dat nie ek of jy ooit weer annerkant daai grensdraad van ons menswees hoef te leef nie. Ons moet die Veilige Gees net opsoek en so by Hom gaan wegkruip. (Dalk met ‘n stukkie brood in die een hand en ‘n slukkie rooi druiwesap in die ander of ‘n gekuier by oompie Dawid se geskrifte.)
Ps 91:9 (DB) = “Dit is goed dat jy by die allerhoogste God gaan wegkruip. “