Fokus my Kind

Ek en die Mooiste Mooi het kort knap na sonsak op die plaas aangekom. Alles lyk stil en alles is stil. Standbeeldstil. Selfs nie eers die blare van ‘n groterige peperboom waar onder die Genadewa staning gemaak het, roer nie. Miskien het die plaasmense spore Upington toe gemaak, het ek so by myselwers gedink terwyl ek kombuis se kant toe staan. Deesdae is dit mos nie vreemd dat mense sommer in die middel van die week dorp se kant toe gaan nie.

Ek wou net omdraai terug na die Genadewa en die Mooiste Mooi toe nadat ek geklop het, toe die kombuisdeur stadig oopgaan. Hy is groot, baie groot. Dalk amper so groot soos Goliat van ouds want hierdie grondeienaar staan die hele kosyn vol. Ek stel myself voor en wink terselfdertyd die Mooiste Mooi nader. Amper half onwillig word ons ingenooi en elkeen soek sitplek langs die kombuistafel op. Sommer so in die stilte van die gaan sit, verduidelik ek omsigtig waarom ons hier, op hierdie spesifieke plaas, kom oorstaan het.

Miskien het my verduideliking die groot plaasboer onkant gevang. Sy donkerbruin oë staar my stip en intens aan en die atmosfeer raak sommer botterdik. Hy haal diep asem sodat sy donker stem duidelik hard en onheilspellend koud in die lug hang. “Julle wil wat doen? Gmmf, wil julle by daai klomp hier agter gaan kuier? En dit nogal oor die Here en kerkgoed! Kyk boetie, laat ek jou sê, julle mors julle tyd.”

Ek wou net reageer toe die Veilige Gees my woorde vashou.

Ek wou net reageer toe die Veilige Gees my woorde vashou. Teen hierdie tyd kook die groot man aan die kopkant van die kombuistafel se hart oor van al die seer en kwaad. “Jy moet nou mooi fokus” sê hy terwyl hy vooroor op sy arms leun. “Kerk is ‘n klug en ‘n bedrog … eintlik korrup. Kerkmense weet mos altyd beter, is altyd reg en kruip tog te lekker agter geloof weg vir geld. Groot geld. En dan word daar mos sommer maklik geskinder en gelieg ook. Oor alles en oor almal. Kamstig dan ook nog in die naam van geloof. Kyk man, laat ek jou beduie, kerkmense van vandag maak my hart pikswart” sê hy terwyl hy met sy skaapboudhand skielik hard op die kombuistafel slaan. So hard dat die Mooiste Mooi verward my hand vasgryp.

Ek weet ek en die Mooiste Mooi moet vandag met bekeerore luister.  Net luister sonder enige opmerkings en aanmerkings. Dit is belangrik dat hierdie woestynmens ‘n oop hek het om sy binneste binne uit te pak en leeg te maak. Eers dan sal sy pikswart hart kan verander en gesond raak.

silhouette of two person sitting on chair near tree
Photo by Harli Marten on Unsplash

Donkernag het lateraan opgedaag. Die rou seer en pyn van die groot man aan die kopkant van die kombuistafel se binneste binne is ontbloot. Hy is murgmoeg, opgebruik en stil want hy het uitgepak. Hy het alles uitgepak. Die prys wat hy moes betaal sodat daar lig op sy diep gestoorde geheime kan skyn, was hoog.

In daardie amperse heilige stilte na die groot man se alleen praat, onthou ek weer dat Job van ouds 3 ware vriende gehad het. Hulle was daar in Job se donkerste tyd met moeite en opoffering. Het hierdie geharde woestynmens wat ‘n deurkosyn vol staan ook dalk iewers ‘n vriend wat by hom staan, het ek gewonder. ‘n Ware vriend soos Job se geesgenote of selfs beter … ‘n vriend soos Jesus. Iemand wat hom kan help en bystaan in hierdie lewens donkerte.

“Mag ek asseblief iets sê?” vra ek saggies. Stadig knik hy sy kop nadat hy met moeite sy moeë donker kykers op my neergesit het. “Onthou tog asseblief dat kerkmense nooit uit ‘n maagd gebore is nie. Dit is ook nêrens opgeteken dat daar ooit gesê is dat die kerkmense die Vader se Geliefde Seun is nie. Kerkmense is wel gemartel maar het nooit aan ‘n ruwe kruis gehang namens my en jou nie. Kerkmense het verseker ook nie opgestaan en opgevaar na die hemel en sit aan die Vader se regterkant nadat hulle 3 dae in die graf was nie. En laastens kerkmense het nooit ooit belowe dat hulle sal terugkom nie. Net Jesus het al daardie dinge gedoen en gesê en Jesus as Kêrelkind van God, is die enigste hoof van die kerk. Nie kerkmense nie.”

Ek sien hoe my woorde adres in sy kop en hart maak. Stadigaan begin die geharde woestynbewoner se oë lewe en hy sit kiertsregop. Dan trek hy sy skouers terug, maak sy rug reguit en kyk my vol in die oog. Hard weerklink sy donker stem deur die kombuis “Ek was verkeerd. Ek’s so jammer. Ek was heel verkeerd. My oog was net op kerkmense en so by so het ek van Hom vergeet. Hy is die een na wie ons moet kyk en Hy is die een op wie ons moet fokus. Ek kan sommer hoor hoe die Vader sê ‘Jy moet fokus My kind … jy moet fokus. Jy moet op Jesus fokus, want Hy is My Kêrelkind.'”

“En nou, broers en susters – julle wat aan God behoort en vir die hemel bestem is – fokus nou skerp op hierdie Jesus van wie ons bely dat Hy Apostel en Hoofpriester is.”

Heb 3:1 (NLV)

Leave a Reply