Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.
(Psalm 51:9)
Om kitaar te speel is great, maar om die kitaar in tune te kry, is heeltemal ʼn ander storie. Hoekom hulle dit so moeilik moet maak, sal geen mens verstaan nie. Die ergste is, die kitaar bly nie eers vir lank ín tune nie. Dit is darem skewe note wat daar kan uitkom, veral as iemand nog probeer saamsing ook.
Eers is ons geleer om die kitaar met ʼn klavier te tune – dit het nie so goed gewerk nie. Wat as die klavier ook ʼn tune nodig het? Deesdae se kitare het ʼn fancy ingeboude tuner. Glo my, dit klink alles net te cool om waar te wees. Ongelukkig kom ek steeds nie reg nie. As die kitaar uit tune is, is dit uit. Ek belowe jou, dit lyk baie makliker om ʼn kitaar te tune as wat dit regtig is!
Toe hoor ek van ʼn App wat ek op my selfoon kan aflaai. Die nuutste is blykbaar die GuitarTuna. Hier het ek toe ʼn wenner beet. Of so het ek gedink. Getune en al, sit ek af na die ou wat vir my kitaarlesse gee. Ewe trots haal ek my kitaar uit sy sak en begin daarop tokkel. Kyk, vir my is dit mos nou getune! Toe nie! Toe hy die tune hoor, vat hy dadelik my kitaar en een-twee-drie tune hy dit dat selfs mý getokkel cool klink.
Hoe weet hierdie man dan so alles? Hoe kan hy dit doen en nogal sonder ʼn klavier, ingeboude tuner of die App? Sjoe, my kitaar was in die hand van ʼn meester!
Belofte:
Daar is dinge in die lewe wat jou sal laat voel dat jy jou tune verloor het. Jou eie ingeboude tuner werk nie. Moenie na die mens gaan vir hulp en raad nie. Plaas jou lewe, jou saak, al jou stuff, in die hand van die Meester.
Gebed:
Here, kom tune my hele lewe. Sit asseblief ʼn nuwe foot-tapping song in my hart en leer my weer om te dans. Amen