Bekeerore

Die sit in hulle huisie was maar so in die skemerte gewees want die wintersonnetjie het vroeg-vroeg gaan slaap. Dis die tweede keer dat ek en die Mooiste Mooi hier kom oorstaan en ek onthou nog duidelik die gekerm en gekla oor die genadelose kerk en sy mense tydens ons vorige besoek. Meedoënloos vervelig laat die ysige windjie die vaalkleurige kantgordyne geruisloos heen-en-weer voor die vaalvuil vensters verby beweeg. My hande vryf wriemelend oor mekaar om die diep byt van die koue teen te werk en ek wonder in my stilligheid wat hierdie besoek gaan inhou.

Saggies klop iemand aan die deur en ons gesprek steek skielik vas soos ‘n rooijakkals wat ‘n jaghond ruik. Versigtig word die buitedeur oopgemaak en  die ongenooide oorstaner kom in.  Karoolus is sy naam en hy het maar kort voor laaste week hier ingewaai. Sy handdruk is ferm en vertel sy lewensverhaal vol kennis en ervaring.

Onverwags draai ek die gesprek in die rigting van gelowiges en kerklopers en sy swartbruin oë spuug vuur. Ek kyk hom vol in die oog en besef dat sy binneste-binne vol littekens en ‘n geelrooi oorryp sweersel is. Skades diep uitgekerf deur genadelose gelowiges en liefdelose kerklopers. Met sy skouerknoppe effens agteroor getrek en kop omhoog soos ’n regopstaan geelslang, sit hy trots en kyk my aanvallend en uitdagend aan. Duidelik lees ek in die vensters van sy klipkoue hart die titel van sy beskadigde binnekantstorie. “Die tonge en tande van Fariseërs is geensins stomp”

Opeens breek Karoolus se woede-en-frustrasie sweer deurtrek met teleurstelling, haat en verwyt vanuit sy binneste-binne oop. Hierdie uitbarsting en tirade het die huismense soos ‘n uitbreekskaap heel onkant gevang. Verdwaas en verbaas sit hulle groot oog en luister terwyl Karoolus se ysige hartswoorde hard in ons ore eggo. Kort na sy tweede of derde salvo’s gevuur is, begin hulle ook stadig vertel van dit wat kerkloop vir hulle so moeilik maak. Hulle vertel van lieg en bedrieg en hoe die kerklopers en gelowiges behendig met ‘n vlymskerptong selfs jou toekoms en saligheid bepaal.

Heelwat later en Karoolus se sweersel hart is leeg gepraat en hy sak moeg in die rusbank terug. ‘n Klompie minute gaan verby terwyl ‘n amperse goddelike stilte oor ons hang. Selfs die vroegaand murgsuig-windjie het sy asem opgehou. “Dankie, pastoorgoed, dat jy met bekeerore geluister het,” het hy lateraan gegroet toe hy my hand saggies druk.

Met ons vingers inmekaar gevleg en diep in my baadjiesak weggesteek, stap ek en die Mooiste Mooi daardie donkernag terug huis toe. Karoolus se groetwoorde maal deur my kop en ek onthou weer Vader se vroegaand opdrag – “Om met sagte ore te luister is dieselfde as om kosbare komplimente in ‘n ander se hart te fluister”.

Mag ek en jy van vandag af aan met bekeerore na ander se harte luister want ons is ‘n Jesuslig in ander se duister.

Joh 20:21 (DB) = “Jesus praat toe verder: “Vrede vir julle. Julle weet die Vader het My met ’n boodskap na die wêreld toe gestuur. Net so stuur Ek julle nou.”

Leave a Reply