HOOP!

Maar daar sal ʼn takkie uitspruit uit die stomp van Isai, en ʼn loot uit sy wortels sal vrugte dra. 

Jesaja. 11:1

A green shoot will sprout from Jesse’s stump, from his roots a budding branch.

saiah 11:1 MSG

Vanmore lyk alles maar donker.  Die situasie in die land, die skole, ons omgewing; ja, orals is dit negatief en alles behalwe ʼn dag waarna mens kan uitsien. 

In ons eie huis heers daar ʼn somber atmosfeer.  Dit is nog ʼn maand later vir my dogter wat al so lank wag vir ʼn kind van haar eie.  Hoe hanteer mens dit?  Wat antwoord jy?  Hoe maak mens?  Die doktersverslae is tog duidelik: Daar is net nie ʼn kans nie.  Die hele situasie lyk vir my na ʼn droë stomp: geen lewe.  Vir ses jaar bid ons, bestraf ons die vyand, verklaar ons die Woord, bemoedig en beraad ons, maar al wat verander is die datum.  Maand vir maand gaan verby: met elke siklus hoop ons op ʼn volgende maand.  Niks gebeur nie.  Hoe troos jy jou kind; jy behoort dan al die antwoorde te hê?  Hoe?  Sê my, hoe?

Al wat ek het, is die Woord.  “Geloof wankel nie; vertrou die Here,” is al wat ek loop en sing. Dit is soos ʼn droë stomp; hoe kan daar lewe kom uit hierdie saak? Dit is net geloof en hoop wat my aan die gang hou.  Ja, hoop!  Ons beurt moet ook kom!  Daar sal ʼn baba kom, ek weet!

Op ʼn doodgewone oggend, ses jaar later, sit ek by die lughawe en wag dat die vliegtuig moet vertrek, toe haar boodskap met foto’tjie deurkom: “Mamitjie, sal dit jou laat beter voel?”  Uiteindelik ʼn positiewe swangerskapstoets!  Bloedtoets-tellings is amazing!  Niemand sal ooit kan verstaan nie!  Daar is dit!  HOOP en GELOOF het ons nie gefaal nie.  ʼn Klein pienkvoet is oppad!  Daar is lewe in ʼn hopelose situasie!  Ons het die bewyse!  Wat ʼn vreugdevolle dag!

By my God is alle dinge moontlik!

Belofte:

Uit jou hopelose situasie sal daar weer lewe uitspruit!  Moenie opgee nie, kyk weer!  Daar kom ʼn takkie uit, wortels en vrugte.  Meer as wat jy voor gevra het, is oppad.

Gebed:

Dankie Here dat wanneer dit lyk daar is geen hoop nie, kom U altyd deur.  Amen

Leave a Reply