OOPS! My selfoon teks debakel.

Gaan nie haastig uit om te twis nie…

(Spreuke 25:8)

Ek sit nou die dag op WhatsApp en gesels met Liam, ʼn nuwe gemeentelid. Ek is so opgewonde oor hom, want dit klink toe mos vir my hy het baie talente waarvan niemand weet nie. Ek tik met ʼn stinkspoed op my selfoonskerm, ek vra uit en wil alles hoor. Dis nie te lank nie of hy stuur vir my ʼn voicenote met een van sy nuutste skeppings.

Nou kyk, as jy ʼn gemeente het en jy weet die talente is maar skaars gesaai, gryp jy met alles wat binne jou is na enigiets wat moontlik talentvol is. Ek is so opgewonde! Hier kom ʼn ding! Dit is mos iets waarvoor ek al so lank gebid het.

Nuwe Talent!

Ek wag en ek wag, maar die voicenote vat ook sy tyd om oop te maak. En so wrintie waar, toe ek dit uiteindelik gespeel kry, is dit ʼn recording van Liam wat “How great Thou art” met ‘n konsertina speel. Nogal. Ek is in ekstase! Nuwe talent; nuwe sommer alles! Kyk, en net daar begin ek sommer te tik: “Coooooool”. Ek sit die selfoon neer en probeer weer fokus op my werk. Na ʼn rukkie, kom daar weer ʼn boodskap van Liam deur. Hiérdie keer vra hy of ek en hy nie saam ʼn item kan oefen nie – Ek op die klavier en hy op die konsertina: “You raise me up”.

En daar vang my oog dit! O genade, ek dog ek sterf net daar aan my hart. Die bloed stoot warm in my gesig op. Hoe kon ek so ʼn fout maak? Ek het toe nooit “cooooool” getik nie, maar “vooooool”! Stupid selfoon – Tik ook net sy eie ding! Nou is ek in groot moeilikheid. Liam is ʼn nuwe lidmaat, ʼn nuwe bekeerling. Ek kan net dink wat hy nou moet dink, dan praat ek nie eers van hoe hy moet voel nie.

Persoonlik sou ek terrible gevoel het as iemand my poging so beantwoord het. Ek kan dit nie glo nie! Hoe gaan ek dit regmaak? Hoe en wat sê ek? Gaan hy my ooit glo as ek myself probeer verduidelik? Stupid foon!

My hart klop woes in my binneste. Wel, daar is net een manier. “Vra omverskoning, en dan laat jy dit daar” praat ek myself moed in. Ek antwoord toe ewe soos volg: “O, mother dear, ek is sooooo jammer! Ek bedoel nie ‘vooooool’ nie, maar moes eintlik, ‘coooooool’ getik het. Ek is so jammer.”

Nope. Dit werk nie.

Dadelik delete ek die boodskap en besluit om eerder ʼn voicenote te stuur. Dit sal net beter klink, dink ek. Ek verduidelik en verdedig myself; probeer om al die skuld op die ding in my hand plaas. Ek druk die send-knoppie en hou my asem vir ʼn paar sekondes op. Nou wag ek. Ja-ja, ek besef vool is nie fool nie, maar dit is mos hoe die mense deesdae spel, dan nie?

Hierdie pastoor kan nie eers spel nie, en dan spreek sy nog sulke goed oor my uit terwyl ek net my beste deurgegee het?

Nou is ek regtig verleë. Wat dink Liam? Sal hy ooit verstaan? Wat as hy dink: Hierdie pastoor kan nie eers spel nie, en dan spreek sy nog sulke goed oor my uit terwyl ek net my beste deurgegee het? Ek wag en ek wag. Ai, en die tyd loop so staaadig; dit voel soos ure voor ek weer my selfoon se WhatsApp ringtone hoor. Ek hoop dit is Liam. Ek hoop hy aanvaar my verskoning.

Tot my verligting, lag hy net te lekker. Jy sal nie glo wat hy reply het nie! Hy het blykbaar dadelik hierdie vreemde woord gaan google. En raai wat beteken hierdie woord toe? Jy sal my nie glo nie! Vool met ʼn v – Rerag, dit is ʼn woord – kom in die Urban Dictionary voor as: “Vool is a portmanteau. It combines the words ‘very’ and ‘cool’.”

Ek het myself daai dag in ʼn ander bloedgroep in gelag. Toe het ek nooit eens geskel nie. Toe het my foontjie my nie in die steek gelaat nie. Toe het Liam nie snaaks gedink nie. Inteendeel. Hy het baie goed gevoel, want dit was toe al die tyd very cool. My hart!

Net daar gaan sit ek en dink:

Net daar gaan sit ek en dink: Is dit nie hoe dit soms gaan nie? Jy dink die ander dink wat jy dink en dan dink nie een dieselfde nie. Soms dink ons dat ons ʼn fout gemaak het, en dan is daardie fout nooit ʼn fout nie. Kan jy glo?

Don’t jump to conclusions- there may be a perfectly good explanation for what you just saw.

(Proverbs 25:8 – MSG)

Hoeveel keer sê of doen jy iets en daarna pak die skuldgevoelens jou beet, want jy lei weer af wat die ander een moes dink. Skep moed en weet, almal kan foute maak, of… is dit rerag ʼn fout?

Belofte:
Word eers stil; moenie so gou jou eie gevolgtrekkings maak nie. Alles wat jy doen is nie altyd so verkeerd nie. Wag en sien.

Gebed:
Here, help my dat ek nie my eie conclusions maak nie. Help my om altyd ander hoër as myself te ag. Help my om nooit iemand anders seer te maak nie. Gee my insig, en begrip en maak my attent op hoe en wat ek sê en/of tik.
Amen

Luister na Past Karin op haar program ‘Platvloers’ elke Woensdag oggend om 8:00


More Posts for Show: Platvloers

3 thoughts on “OOPS! My selfoon teks debakel.

  1. Ek het die verhaaltjie baie geniet.
    Ons is so geneig om dinge vooruit te hardloop en verkeerde gadagtes te vorm – en ons maak dit erger as wat dit regtig is.

  2. Moet self se sussa Karin het nou saam jou in die 1ste deel.my asem opgehou en gedink “ag vader toggie hoveel keer het dit nie ook met my gebeur…dan laat ek dit maar ‘n stil dood sterf” maar ek het nou ‘n ander insig gekry moenie te gou jouself sommer net oordeel nie. Baie kosbaar geskryf.

  3. Gert en Lotitia… ek is so bly julle kan relate tot wat ek ervaar het. Hoeveel keer het ek nie al rooigesig gestaan nie. LOL Waardeer julle terugvoering. Kosbaar van julle x

Leave a Reply